Kanse vervaag om Maleisië vlug MH370 te vind

MALEISIË – Hoop om die wrak van die vermiste Maleisiese vlug MH370 in die Indiese Oseaan te vind, het gister vervaag nadat dit geblyk het dat die area te diep vir die duikrobot is wat in die soektog na die vliegtuig gebruik word.

Die Verenigde State van Amerika (VSA) se ‘Bluefin-21’ outomatiese onderwater vaartuig is sowat 2000 km noordwes van Perth ingespan om die seebodem te verken op soek na die vermiste Boeing 777 nadat geen seine van die vlugopnemer vir ses dae opgespoor kon word nie.

Slegs ses ure nadat ‘n 16-uur lange soektog begin is, het die duikrobot sy maksimum diepte van 4.5 km oorskry en ‘n veiligheidsmeganisme het die robot outomaties na die oppervlak laat terugkeer. Volgens ‘n verklaring van die VSA se vloot, is die data wat versamel is geanaliseer, maar dit het geen noemenswaardige informasie opgelewer nie.

“Die duikrobot was veronderstel om die seebodem vir sestien ure te verken, maar die operasie is na ses gekanselleer omdat die oseaan in die omgewing te diep was. Enigsins dieper, en die waterdruk kon die duikrobot beskadig. Die ingeboude veiligheidsmeganisme het ten doel om skade te voorkom deur die duikrobot na die oppervlak te laat terugkeer”, volgens die VSA se verklaring. Die Bluefin was glo geprogrammeer om 30 meter bo die seebodem te soek.

Beamptes in die soektog na Vlug MH370 was glo bewus daarvan dat die vermiste vliegtuig dalk buite die operasionele perke van die Bluefin mag wees. Dieper onderwater vaartuie en toerusting is geëvalueer; maar geen geskikte toerusting was tot hede beskikbaar om in die soektog te help nie.

“Die Bluefin was nie beskadig nie en word geprogrammeer om voorwerpe op die seebodem op te spoor. ‘n Veiligheidsmarge sou in die duikrobot ingebou word om die robot te beskerm indien dit dieper as die 4,500 meter perk sou gaan”, het Stefan Williams, ‘n professor van marine toerusting by die Universiteit van Sydney gesê.

Hy se “dit is moontlik dat sommige areas dieper as die verwagting kan wees. Indien data van die area nie baie volledig is nie, het hulle waarskynlik die missie beplan volgens die algemene indruk van die area, terwyl sekere kolle veel dieper kan wees. Veranderings in die seebodem is nie altyd waarneembaar van die oppervlak nie.”

Intussen stel beamptes ook ondersoek in na ‘n oliekol sowat 5.5 km vanaf die area af waar die laaste onderwater seine waargeneem is,” se Angus Houston, hoof van die gesamentlike agentskap wat die soektog koördineer langs die weskus van Australia. “Spanne het monsters van die olie geneem en dit word na Perth versend vir analise; ‘n proses wat etlike dae kan duur. Dit wil nie voorkom of die olie van skepe in die omgewing afkomstig is nie, maar mens moet versigtig wees om nie oorhaastige gevolgtrekkings te maak nie.”

“Die Bluefin kan ‘n drie-dimensionele sonar beeld van items op die seebodem weergee, maar slik op die seebodem bied talle uitdagings en dit kan dele van ‘n vliegtuigwrak verbloem. Hulle sal moet soek vir ‘n kontras tussen harde voorwerpe soos ‘n wrak en die slik op die seebodem,” sê professor Williams. “Met die sonar toerusting wat gebruik word, kan iets soos ‘n vliegtuigvlerk bo die slik opgespoor word, maar kleiner voorwerpe kan in die slik wegsink, wat dit soveel moeiliker kan maak om iets op te spoor.”

Die soektog na die vermiste vliegtuig is uitgebrei na hierdie area nadat soekgeselskappe ‘n reeks seine oor die laaste twee weke waargeneem het wat dalk van ‘n vlugopnemer afkomstig kan wees. Vlugopnemers maak opnames van vlugdata en kajuit gesprekke. Die toestelle stuur seine uit sodat dit maklik gevind kan word, maar die batterye hou ongeveer een maand en die batterye is waarskynlik teen die tyd reeds afgeloop.

Die Australiese eerste minister, Tony Abbot, het hoop laat opvlam toe hy gesê het dat soekspanne redelik oortuig daarvan is dat die vier onderwater seine wat waargeneem is, van Vlug MH370 se vlugopnemers afkomstig is. Die vlug het spoorloos verdwyn nadat dit op 08 Maart 2014 van Kuala Lumpur in Maleisië opgestyg het op pad na Beijing in Sjina met 239 mense aan boord; meesal Sjinese.

Angus Houston het egter gewaarsku dat hoewel die seine ‘n belowende leidraad is, moet die publiek realisties wees oor die uitdagings van ‘n soektog in die afgeleë gedeelte van die oseaan met diep waters. “Ek moet mense waarsku dat die duikrobot dalk nie die wrak sal kan opspoor nie. Die duikrobot neem 24 uur om ‘n missie te voltooi: 2 ure om na die seebodem te duik, 16 ure om die seebodem te verken, 2 ure om na die oppervlak terug te keer en 4 ure om die data af te laai.”

Die vlugopnemers kan waardevolle informasie bevat om misterieuse verdwyning van Vlug MH370 te ontrafel. Ondersoekbeamptes glo dat die vliegtuig in die suide van die Indiese Oseaan neergestort het op grond van die vliegtuig se roete volgens satelliet seine, die spoed van die vliegtuig en die vliegtuig se brandstof kapasiteit. Niemand weet egter waarom die vliegtuig doelbewus kontak verbreek het en van die beplande roete afgewyk het nie.

Die Maleisiese minister van verdediging, Hishamuddin Hussein, het egter beloof om alle besonderhede op die vlugopnemers openbaar te maak indien die vlugopnemers opgespoor sou word. “Dit gaan oor die bekendmaking van die waarheid,” het hy aan verslaggewers in Kuala Lumpur gesê. “Daar is geen kwessie oor die volledige bekendmaking van die informasie nie.”

Tot soveel as elf vliegtuie en net soveel skepe het Dinsdag die area van die oseaan van sowat 62,000 vierkante kilometer verken vir enige tekens van wrakstukke. Die area is sowat 2,200 km noordwes van Perth.

Die weke lange soektog was veronderstel om na twee dae te eindig. Beamptes kon egter nog nie ‘n enkele wrakstuk of oorblyfsels van die vliegtuig vind nie. Volgens Houston het die kanse dat enige iets gevind kan word, “drasties afgeneem”.

KML-LogoFullscreen-LogoQR-code-logoGeoRSS-LogoWikitude-Logo
Flight MH370

loading map – please wait…

Flight MH370 Last Secondary Radar (Transponder) Contact: 6.920833, 103.578611
Flight MH370 departs from Kuala Lumpur: 2.753363, 101.705003
Flight MH370 Last primary radar contact: 6.827222, 97.720833
Flight MH370 destination Beijing International Airport: 40.079857, 116.603112
Flight MH370 search March 20, 2014 (Aircraft and ships dispatched): -44.050556, 91.224167
Flight MH370 search March 22, 2014 (Chinese satellite shows a possible object): -44.958333, 90.227778
Flight MH370 search March 12, 2014: 6.700000, 105.630000
Flight MH370 lost contact with Subang: 6.551389, 103.344167
Flight MH370 search March 26, 2014 (Possible pieces of debris A): -44.690000, 90.422000
Flight MH370 search March 26, 2014 (Possible pieces of debris B): -44.694014, 90.492000
Flight MH370 search March 26, 2014 (Possible pieces of debris C): -44.669500, 90.607000
Flight MH370 search April 05, 2014 (Chinese ship detects pulse): -25.000000, 101.000000

You must be logged in to post a comment Login